Hierdie is die tweede reeks in die nuwe formaat van Noot vir Noot. Die eerste sestien weke is weer die uitdunne om te bepaal wie gaan deur na die tweede rondte , of soos ons dit soms noem, die semi’s. Programme 17 tot 20 het dan elkeen 4 deelnemers en die wenner in elkeen van hierdie programme speel teen mekaar om die wenner van die reeks in program 21 te bepaal. Saam met ons spesiale program, wat altyd vir baie pret sorg, is Noot vir Noot dan vir 22 weke “op die lug”.
Hierdie nuwe formaat het geweldig baie nuwe kykers na Noot vir Noot getrek en teen die einde van die reeks het die Noot vir Noot kykertalle nuwe hoogtes bereik en alle vorige rekords oortref Nie sleg vir ’n program wat al van 1991 af loop nie!!
Reeks 33 het twee baie interessante speletjies by gekry. Die eerste een word sommer vroeg in die program deur al 4 die deelnemers gespeel. Ons noem dit die “Noot aangee” . Dis ‘n speletjie wat vinnig beweeg en wat regtig baie staat maak op die deelnemers se kennis van verskillende liedjies en titels. Dis ‘n baie lekker speletjie wat ’n hele gesin sommer in hul motor op pad iewers heen ook kan speel.
Die ander nuwe een noem ons die “Inleidings speletjie”. Die orkes speel die inleiding van ’n liedjie wat ’n bekende of kenmerkende inleiding het en die deelnemers moet sê wat die naam van die liedjie is. Hierdie speletjie plaas nuwe druk op die Musiekfabriek wat moet probeer om die inleiding so te speel dat hy net soos die oorspronklike weergawe klink. Kry hulle dit reg? Besluit self ! Hulle word nie sonder rede as die beste orkes in Suid Afrika bestempel nie.
Hierdie jaar val Kersfees en Nuwejaar elk op ’n Vrydag en ons het gewonder hoe kan ons hierdie twee programme spesiaal maak vir die geleenthede. Ons het toe besluit om die Musiekfabriek die gaskunstenaar te maak in die Kersfees program. Elke lid van die orkes gaan ’n tipiese kersliedjie speel of sing wat beslis vir ’n baie oulike “iets anders” sorg. Aan die einde van hierdie Kersfees program gaan julle iets baie besonders van Johan Stemmet sien wat nog nooit op Noot vir Noot gesien is nie. Moet dit nie mis nie!!
Met die Nuwejaarsprogram het ons vir Jason King and The Great Pretenders terug genooi vir ’n kleurvolle keurspel vir hierdie aand. Hierdie groep is uitstekend en bied altyd baie genotvolle musiek en vermaak. En in die res van die reeks het ons weer eens die room van Suid Afrikaanse kunstenaars. Daar sal iets wees wat in elkeen se smaak behoort te val.
Geniet elke Vrydagaand saam met ons. Ons geniet ons steeds gate uit om die programme te maak en met julle te deel. Julle positiewe terugvoer oor die jare het daartoe bygedra dat almal wat op die produksie werk, entoesiasties en ywerig hulle beste gee om Noot vir Noot spesiaal net vir julle te vervaardig ! Dankie vir julle jarelange , getroue ondersteuning ! Dis te danke aan julle dat Noot vir Noot vandag is wat hy is !!
Geniet reeks 33 !
View site in English
Kontak Noot vir Noot
Klanktoerusting verskaf deur:
CDs:
Johan Stemmet het 'n nuwe CD uitgereik: Reisiger.
Vir meer inligting gaan na
www.johanstemmet.co.za
Bordspeletjies:
Die Bordspeletjie is tans uitverkoop.
Oudisies vir Sangers:
As jy dink jy staan ‘n goeie kans om genooi te word, stuur dan gerus vir ons ‘n
CD en CV na:
STEMMBURG TELEVISIE
POSBUS 44448
LINDEN
2104
Inligting vir Kunstenaars:
Ons stuur graag aan al die private kunstenaars wat vir ons oudisie CD’s
gestuur het ’n brief wat die ontvangs van die CD erken. Ongelukkig het
die aantal CD's (en die posgeld) so geweldig toegeneem dat ons in die toekoms
slegs per e-pos gaan kommunikeer. Maak dus asb seker dat u ‘n e-pos adres
ook voorsien. Baie dankie
section 51