Baie verskillende mense met baie verskillende smake en voorkeure kyk na Noot vir Noot. Ons probeer die 14 kunstenaars van elke reeks so kies dat daar iets vir elkeen se smaak sal wees.
In Noot vir Noot word ʼn sanger of sanggroep gebruik om musiek te sing wat in ʼn speletjie geïdentifiseer moet word. Nie enige liedjie is geskik vir die speletjie nie en slegs sekere liedjies is dus bruikbaar. Kunstenaars wat nie hierdie tipe liedjies sing nie kan nie gebruik word nie. Die meeste liedjies word gesing en slegs by uitsondering word van instrumentale liedjies gebruik gemaak.
Oudisies vir deelnemers vind gewoonlik in Junie – Augustus plaas.
Punte wat gewoonlik besoek word is: Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein, Nelspruit, Johannesburg en Pretoria.
Datums sal later vanjaar in die pers bekend gemaak word of hou ons webtuiste dop.
As jy dink jy staan ‘n goeie kans om genooi te word, stuur dan gerus vir ons ‘n CD en CV na:
STEMMBURG TELEVISIE
POSBUS 44448
LINDEN
2104
Maatskappye hou ons gedurig op hoogte van hulle jongste vrystellings. Nuwe kunstenaars wat nie verspreidingskontrakte het nie, stuur self vir ons ʼn CD om na te luister. Hierdie CD’s word gewoonlik vergesel van ʼn kort beskrywing van die kunstenaar se musiekgeskiednis.
Daar bestaan ʼn ope uitnodiging aan almal om vir ons CD’s te stuur om na te luister met die oog op moontlike deelname aan Noot vir Noot. Ons luister na alle CD’s wat ons kry, dokumenteer elke geval en bewaar al die inligting vir minstens 5 jaar. Ons verskaf geen terugvoering oor ons opinie van die CD nie en ons luister daarna alleenlik met die oog op ʼn moontlike gebruik in Noot vir Noot. Ons keuses en norme verskil natuurlik van ander TV programme s’n en ons wil nie betrokke raak by enige besprekings rondom ons besluite nie.
Tussen al die CD’s wat ons ontvang is daar baie kunstenaars wat volgens ons nie heeltemal sal werk op Noot vir Noot nie, maar wat wel met groot sukses op ander TV programme sou kon verskyn. Verder is daar die groep waaroor ons half onseker voel oor of hulle sal “werk” op Noot vir Noot. Ons plaas hulle gewoonlik so bietjie op die ys en hou hulle groeiende gewildheid in die plaaslike musiekbedryf noukeurig dop. En dan is daar daardie gevalle wat ons weet hulle is ware Noot vir Noot materiaal, maar daar is eenvoudig nie genoeg plek vir hulle nie. Hierdie kunstenaars se name beland in die “Baie Bruikbare” kategorie en ons oorweeg hulle telkens weer wanneer die nuwe reeks se kunstenaars gekies word.
Met die keuse van die 14 kunstenaars vir die volgende reeks word voorsiening gemaak vir ‘n verskeidenheid van musiek style, tale, kulture, ouderdomme, baie bekende kunstenaars, minder bekende kunstenaars, nuwe kunstenaars ens. Daar is hopeloos te veel om van te kies en die probleem is nie “wie om in te sit nie” maar eerder “wie om weg te laat.”
Die top Suid-Afrikaanse kunstenaars moet gereeld gesirkuleer word omdat daar maar gedurig versoeke is om hulle weer en weer te sien. Deesdae word Afrikaans en Engelse sangers van enige rasgroep gebruik solank hulle die tipiese liedjies wat ons in Noot vir Noot wil gebruik goed kan sing. Het u geweet dat alhoewel hierdie program in Afrikaans aangebied word, verteenwoordig wit Afrikaners slegs die helfte van die kykers. Die ander helfte is van ander kultuurgroepe en tale.
Kunstenaars tree in Noot vir Noot saam met die Musiekfabriek op. Lank voor die opname sal ons saam met die kunstenaar besluit oor watter vyf liedjies gesing gaan word. Daarna maak ons vir die kunstenaar ’n begeleidingsband (“backtrack”) waarmee hy solank kan oefen. Die dag wanneer die program opgeneem word oefen die kunstenaar en die Musiekfabriek vir die eerste en enigste keer saam. Die program word opgeneem asof dit ’n lewendige optrede is, m.a.w. dis “one take” en daar is geen “auto tuners” nie!
Kunstenaars betaal niks om in Noot vir Noot op te tree nie. Inteendeel, die kunstenaar ontvang ʼn fooi, wat deur die SAUK bepaal is, vir sy/haar professionele optrede en sou hulle van ver kom word die reis en verblyfkoste ook betaal.
Dit bly vir ons lekker en ons beskou dit as ’n voorreg om saam met die room van Suid-Afrika se sangers musiek vir die hele land te maak. En soos ons dit by Noot vir Noot doen sal jy alleenlik by Noot vir Noot sien!!