Dit gaan in ‘n mindere mate oor of jy die musiek ken of nie. Jy moet tog die musiek ken om saam te kan speel en die kompetisie lê dan in wie van die deelnemers eerste die liedjie in kompetisievorm herken.
Die sukses van die program is ook gebaseer op die feit dat die vervaardigers gereeld geringe veranderinge t.o.v. speletjies aanbring sonder om aan die wenresep te peuter.
Verder vind die uiteenlopendheid van gaskunstenaars groot byval by kykers want daar is altyd iets wat in almal se smaak val in 'n reeks van 14 programme. Die program het homself oor die jare bewys as 'n gesogte platform vir gevestigde en nuwe kunstenaars.
Die vervaardigers het onderneem om Noot vir Noot vir die Suid-Afrikaanse publiek aan te bied vir solank hulle daarna wil kyk en dit geniet. Sodra die belangstelling kwyn sal die bestaansreg van Noot vir Noot weer heroorweeg word maar te oordeel aan die konstante styging in kyksyfers met elke reeks, is die einde van hierdie uiters gewilde TV musiekspeletjie nog lank nie in sig nie.